WES-KAAP – Gansbaai, een van die mooiste vissersdorpies in Suid-Afrika, is uniek in sy reuk. Volgens Anusche van der Raath, ‘n inwoner van Gansbaai, het Gansbaai sy eie vismeelreuk wat enige tyd van die dag verwag kan word. Die reuk is ‘n teken van voorspoed omdat dit dui op die feit dat mense werk en ‘n inkomste verdien.
Gansbaaiers voel trots om in hierdie unieke stad te woon, waar die meeste mense mekaar ken en ‘n band met mekaar het. In die oggend wanneer mense opstaan en werk toe loop, voel hulle bevoorreg om deel van hierdie gemeenskap te wees. Die goeie more en glimlagte waarmee jy gegroet word, is die beste. Die gasvryheid van die mense is verstommend en jy voel sommer welkom as jy in een se huis inloop.
Gansbaai se mense is lief vir die stad, sy pragtige natuur en sy unieke geur. Vir Anusche is Gansbaai haar klein paradys en ‘n fenomenale plek. Sy gesegde, “As daai anker jou hak wil jy nie weg nie”, is ‘n waarheid wat elke Gansbaai-inwoner verstaan.


